Die Hartfords se web werf

(Mariet en Rynhardt)

..gedurig onder konstruksie...

The mystery explained!

Vandat ek klein was, is verwys na Kellog's Corn Flakes as poustousties, sonder dat iemand vir my kon sê hoekom. Uiteindelik is die gehemenis onlangs opgelos toe ons 'n actual Post Toasties box raakgeloop het, hier in die VSA.

cookies!!

Jip. Spesiaal vir Gerrie. Gemaak van regte Girl Scouts!

Ons huis

Ons kar

Troue onthaal

Mariet se verjaardag

Scarsdale braai

Hoboken, Whiskey Bar

Anniversary en verjaardag

New Jersey strand

New York uitstappie

Washington DC

Status report 26/11/2002

Nog Goete 5/12/02

Thanksgiving Trip

Halfjaar update

Gebeure

13/06/2003

Wel, nou ja. Dit is al 6 maande sedert die web werf bewerk is. Plantjies is gesaai, groente is ge-oes en die lande lê al weer dor. In tussentyd gaan ons nog aan die kant.

Dinge het redelik spoed gevang in middel Desember met my wat by Shoprite begin werk het. Die het ek gedoen vir omtrent 2.5 maande, tot omtrent 2 weke voor ons SA toe is. Die ure was redelik lank, en ek het net een dag 'n week afgehad. Dit het nogal ons uitganery beperk en ons het nie veel van die land in daai tyd gesien nie. Omrede dit winter was en alles toegesneeu, het ons nie veel gemis nie. Nou dat ek daaraan dink, behoort ons nog êrens ski-fotos te hê. Ons het heelwat verlang SA toe, en het dit moerse geniet die twee weke wat ons daar kon kuier. 2 Weke is heeltemal te min tyd en ons het gewens on kon langer bly. Ons sien al klaar uit na volgende jaar wanneer ons terugkom. Terug in die VSA het Mariet weer aangegaan met werk, en ek het einde April begin konstruksiewerk doen. Dit behels die opsit van publieke stoorplekke, wat meestal staal en sinkplaat is. Die het ek gedoen vir so 3 weke, totdat die job klaar gemaak het. Nou is ek weer op soek na werk.

Petro het ook 'n besige tyd agter die rug. Sy het haar Associates Degree klaar gemaak, gegradueer en is nou in Florida besig met.. konstruksiewerk! Jip, sy doen dieselfde as wat ek gedoen het, en vir dieselfde ou, 'n Suid Afrikaner wat sy eie maatskappy het. Ons het darem al 'n bietjie uitgekom vandat die sneeu gesmelt het, en het onder andere Niagara Falls gaan besoek. Die en ander fotos is hierso.

05/12/2002

Sommer net 'n klomp goete, van Halloween tot ons Thanksgiving Trip. Die detail is vir 'n verandering in die lienks (skakels!).

26/11/2002

So 2 naweke terug het ons weer by die Franse gaan eet. Ons het met die trein ingegaan Hoboken toe, vir 'n verandering. Dis omtrent 'n uur en 'n half se ry, teenoor die kar se ry wat 'n uur vat, en dan nog vir 'n halfuur parkering soek. Dink aan parkering soek in Melville op 'n Vrydagaand.

Ons het vir ons KWV rooiwyne gekry hierdie kant. Dis nou van die export wyne. Nogal heel lekker, omtrent op 'n gelyke voet met die ander goeie SA rooiwyne. Ook nie te duur nie, teen $8 goedkoper as die meeste ander wyne hier.

Dan was ons ook so 'n ruk terug weer Manhattan toe en het by McSorley's gaan drink. Dis een van die oudste pubs in die stad en daar was 'n klomp brandweermanne wat die Sept. 11 tragedie herdenk het. Die dames het natuurlik dit baie geniet, en die klomp manne was nogal heel vriendelik. Toe hulle hoor ons is van Suid Afrika af, het ons sommer populêr geraak en het hulle begin drankies aandra. Ons het nie gekla nie. Sien Status report 26/11/2002.

Verder, dinge gaan nog goed hierdie kant. Is dit nou nie 'n conversation killer nie. Geen drama om oor te skryf nie, net so een of twee hoogtepunte.

Maandag is ek saam met Mariet na Getty'sburg toe, daar waar die Amerikaners een van hulle grootste siviele oorloë gehad het, en waar Lincoln die Gettysburg address gedoen het. Interessante plek as jy van grafte, oorloë en museums vol argaise wapens hou. Ek was net 2 ure daar terwyl Mariet in 'n vergadering was by die Schindler fabriek. Na 2 ure het ek ook maar genoeg gesien. Daar is definitef beter plekke om by vas te haak.

Ekke soek nog werk. Mariet sê ek moet geduldig wees maar ek begin nou al haastig raak. Darem het ek projekte om my by die huis besig te hou. Ek het die biltong ding al goed onder die knie en het nou begin gemmerbier maak. Nie te sleg nie, vir 'n eerste keer. Dan het ons nog heelwat ingelegte boontjies en nog van die koperpennie wortels wat Mariet gemaak het. En ons het 'n braai, so mens kan sê ons raak ingerig. Ons beplan om vir Thanksgiving weg te gaan, sommer 'n pad te vat en te ry. Ons mik vir Nashville Tennesee, en behoort deur 'n paar state te gaan op pad soontoe. Hopelik kan ons ook by die Jack Daniels brouery 'n draai gaan maak. :-).

7/10/2002

Ons het gister teruggekom van Washington DC af. Mariet het werk gehad om te doen daar en ek is saam met haar laas Woensdag. Ons het 2 van haar kollegas, Richard en Dan, ontmoet die aand en gaan eet in 'n tema restaurant genaamd Rainforest Cafe. Die hele restaurant is vol van robot ape en ander diere wat elke nou en dan aan die skree gaan. Baie entertaining die eerste ruk maar dit onderbreek nogal die vloei van die gesprekke as 'n bulaap in jou ore kom kerm elke 20 minute.

Die volgende dag het ek met die subway na van die monumente in Washington gaan kyk terwyl die ander mense gaan werk het. Dis nogal lekker om so te kan vakansie hou terwyl die ander mense werk. Seker nie meer lank voor my vakansie klaar is nie. <sniff> Die subway is baie effektief, mens het nie eintlik 'n kar nodig in die stad nie, en dis ook skoon, goedkoop en oor die algemeen heel cool. Die aand het ons meksikaanse kos gaan eet in 'n plek soortgelyk aan die Spur. Rich, Dan en Mariet het toe al die werk klaargemaak die dag, and sou die volgende oggend al terugry na New Jersey toe, 'n dag vroeër as beplan. Die algemene konsensus was dat Mariet die volgende dag kon afkry om die stad te gaan sien, en ons het nie te veel gestry nie.

Die volgende oggend het ons uitgeboek en 'n motel gaan soek vir die naweek, en ons kry toe een redelik naby die treinstasie, die Wolf Trap Inn. Daarna is ons in na Washington se middestad toe en het die sights en monumente gaan sien, soos die White House, Capitol building, Washington en Lincoln Memorials - baie indrukwekkend. Die plekke en geboue is redelik groot, so ons voete was moeg gestap aan die einde van die dag. Saterdag het ons nog gaan toeris speel in die Smithsonian, en Sondag die Space en Flight museum besoek. Op pad terug het ons gelunch in Baltimore, by 'n Hard Rock Cafe.

Die vorige naweek was ons in na New York toe vir 'n New York uitstappie, en daai fotos is darem al op die webwerf.

Ek het ook aansoek gedoen vir 'n werk, en my resume ingestuur en nou wag ons maar om te sien wat die reaksie is..

Petro het eksamens geskryf die laaste week en het hier by ons huis kom crash vir rus en vrede, toe ons weg was, en sommer nog biltong gemaak en die spens aangevul. Lyk my ons gaan almal biltongkenners wees as ons terug gaan SA toe.

Die 1ste was my verjaardag (Anniversary en verjaardag). Baie dankie aan al die mense wat gebel of ge-email het! Aan die boggers wat vergeet het: julle is gemerk! Ons kon darem met Gustaf en Gerrie en Nele video-conference ook op die dag, en dit het heel goed gewerk vir 'n verandering. Ons sal dit seker weer doen in die nabye toekoms (die video-conf).

14/9/2002

Hierdie is omtrent die eerste naweek wat ons bietjie by die huis rus. Laasnaweek het ons 'n pizza en movie aand gehad op Vrydag, Saterdagmiddag by Mariet se baas se plek gaan barbeque en Sondag saam met die Franse strand toe gegaan. Die laaste week was nou weer Sept 11 gedenkgoeters - ek dink almal wat nog nie gatvol was daarvoor nie is nou gatvol.

Mariet en ek het op die 9/9/02 ons eerste 2 maande van getroude lewe gevier (Anniversary en verjaardag ), wat saamval met die 2 jaar sedert ons begin uitgaan het. Woohoo!!

Die barbeque was interessant gewees maar oor die algemeen effens vervelig. Natuurlik al die mense in Mariet se afdeling was daar, en ek is aan al die mense voorgestel en dadelik weer al hulle name vergeet. Daar was 'n klomp klein mense daar, so 3 van onder 1 jaar, en 'n menigte tussen 4 en 10 jaar. Ek was effe neuroties dat dit dalk aansteelik mag wees. Die mense het omtrent net oor werk en kinders gesels. Baie interessant vir die eerste minuut of wat.

Die barbeque self was nou weer standaard prosedure, burger patties en viennas op die braai, tussen broodrolletjies. Daar was ook heelwat ander kosse soos frikkdelle en hoender en pasta. Die gasvrou het vir ons twee borde kos saamgegee huistoe (in foelie) en twee amerikaanse apple-pies. Die apple-pies is nogal heel lekker, seker die beste appeltert wat ons al ge-eet het.

Die New Jersey strand toe gaan het behels omtrent 'n uur se ry Hoboken toe om die Franse op te tel, en nog 2 ure se ry suid na 'n strand toe. Die strand is 'n lang stuk kuslyn (omtrent 30+ myl lank) suid van new York, en is feitlik toegebou met vakansiehuise. Daar is darem redelik baie toegang tot die strand, veral verder suid by die minder besige strande, waar mens nie 'n strandfooi hoef te betaal nie.

Dit lyk maar soos 'n tipiese ooskus strand, met fyn sand, behalwe dat die golwe nie baie groot is nie. Ons was gelukkig om 'n paar 1-meter hoë golwe te vang, en ek en Jean-Francois het bietie ge-body-surf. Die dames het maar in die stiller water geswem. Die fotos is nog nie ontwikkel nie, maar as hulle is sal ek dit op die web werf sit.

Die naweek voor dit, was 'n langnaweek hier, Labour Day. Ons het die Vrydagaand by Petro gaan braai, Saterdagaand by die Franse gaan eet - Jean-Francois het verjaar - en Sondagaand by Petro gaan eet waar een van haar vriende vir ons bietjie boerekos gekook het. Maandag het ons gerus.

In die laaste twee weke het ons ook met Aikido begin. Dit is lekker vir my om dit weer op te tel, en dit lyk my Mariet geniet dit ook. Heel cool.

O ja, die amerikaanse poolparty wat genoem is hieronder, het toe uitgereën. Dit was nou 3 naweke terug. Jinne, maar die tyd vlieg. Ons was van die min mense daar, en het maar kaart gespeel terwyl die ander mense buite gebraai het. In die reën. Met 'n Weber braai kan mens dit actually doen.

Nog 'n ding! Ek het toe my werkpermit gekry laas Vrydag! Dit was 'n verrassing, ons het dit eers in November verwag. Nou is my vakansie effe kort geknip :-). Ek is nou maar besig om werk te soek..

23/8/2002

Die laaste filmrol in my kamera is ontwikkel nou die dag. Hulle het die fotos vir ons op 'n CD gesit, wat dit darem heelwat makliker maak om op die Web te sit. Daar was nog fotos op van toe ons in SA was (Troue onthaal), van Mariet se verjaardag hier, en van die gejollery tot nou toe.

Dinge gaan nog voor die wind hierso. Ek hou nog elke dag vakansie. so tussen die wasgoed, kook, en huis skoonmaak deur. :-)

Gister het ek chocolate-chip-cookies gebak, wat heel lekker uitgedraai het.

Dit gaan ook goed met Mariet. Sy is hierdie week darem weer hier op kantoor gewees.

Ons was laasnaweek Hoboken, Whiskey Bar toe saam met die Franse en die naweek voor dit na die Scarsdale braai toe. More gaan ons na 'n Amerikaanse pool party en barbeque toe. Klink soos 'n jol. Ons sal terugrapporteer.

13/8/2002

Die laaste paar dae was effe besig, so ek het nie die web-werf (mooi woord, eh?) ge-update nie. Mariet is in Ohio vir die volgende 2 dae, so ek het nou meer tyd in die aande.

Ons kar en Ons huis is ge-populate. Baie dankie aan Petro vir die leen van haar digitale kamera terwyl tech-support nog myne se gremlins uitsorteer.

Genoeg vir een dag.