Ons plek

Ons bly in apartment J25 in Rustic Ridge. Dis dieselfde as 'n flat, maar word anders uitgespreek.

Die kompleks is baie rustig en uhh.. Rustic. Daar is 'n swembad met lifeguards, swings, 'n sandput, volleybal baan, tennisbane en 'n basketbal baan. Klink amper soos 'n aftree-oord, nè.

En daar is die wasgoedkamer, waar die masjiene vyf quarters op 'n slag sluk vir 'n was en dieselfde vir 'n tumble-dry.

Overall is dit 'n kief plek.

Hieronder is 'n foto van ons apartment. Dis die een heel bo regs. Ons bly op die 2de verdieping (waarom verdieping, moet dit nie verhoging wees nie?). Die 2 vloere onder ons is nog 'n apartment.

Ons moet saggies loop, want ander raas die houtvloere en die ouens onder ons word gepla.

Ons het ook 'n balkon, wat in die toekoms die braai area-tjie gaan wees. Die uitsig is redelik oraait. Baie rustic. Die area is basies 'n woud gewees, so orals tussen die huise en komplekse is groot areas met bome. Van die balkon af kan mens die swembad sien, waarin vet Amerikaners rondplons en in die son bak.

Die balkon loop van die TV-kamer af uit. Dis redelik groot, genoeg plek om twee katte rond te swaai. Petro het nie gepose vir die foto hieronder nie. Die skuifdeur gaan uit na die balkon.

As mens nou in die TV kamer staan, dan kan mens die open-plan eetkamer sien, soos in die volgende foto. Ons het al 5 mense onthaal om die eetkamer tafel sonder te veel elmboog stampery.

Langs die eetkamer is ons kombuisie, wat heel goed toegerus is met 'n gasstoof/oond, skottelgoedwasser, groot yskas, genoeg kaste, en eetgerei en kookware. Die wasbak is toegerus met 'n sproeier aan 'n tuinslang wat weggesteek is, waarmee mens potte en panne byvoorbeeld kan skoonspuit. Baie gerieflik.

Die foto hieronder is van die slaapkamer. Mariet was op die foon met die Randburg-familie. Lekker groot kamer, met 'n inloop-klerekas (nie getoon).

Die badkamer (geen foto nie) is ook heel goed toegerus, met bad/stort, toilet, wasbak en 'n air-extraction fan. Die snaakste ding is die voorkoms van kragpunte en ligskakelaars binne die badkamer.

Ok, genoeg van die huis vir nou.

..terug na tuisblad..